Hulle ontmoet elke dag, in die koelte wat my takke en blare bied. Dikwels
om te speel, partykeer om te lag, maar meestal net om kind te wees. Hulle klim
al my takke uit, een vir een. Aan die laagstes word geswaai en in die skadu’s gerondomtalie tot die dronkheid hulle saggies by my
voete gaan laat Iê.
Sy vertel van al haar voorliefdes: van katjies tot
katjiepierings. Met ’n stok
in die hand word drome in die grond geïllustreer. Wat haar laat lag en wat haar
laat huil, daarvan leer hy alles.
Moeiteloos deel ook hý sy wense, al sy vrese en sy
afkere. En ook die vrae wat ’n frons tussen twee nuuskierige oë agterlaat.
Só word ek die plek van jonkwees, ’n skans teen die wêreld. Alles wat ek bied, word met ’n onbevange gretigheid aangegryp. En dié waardering sorg
vir mý hoogste genot. “Klim
soveel as julle wil. Swaai aan my takke en draai in my koelte. Solank julle net
nie van my pere eet nie.” Dit is
al wat ek vra.
“Dié boom se pere éét?!” roep haar oë in stomme verbasing uit.
“Hoe sou hulle smaak?” wonder sy nuuskierige oë.
Haar smeek en mooipraat is alles vergeefs. 'n Saad is
geplant en diep in sy rustelose binneste het iets ontkiem.
“Net een. Net om te proe.”
Sy kyk op na my takke.
“Hy waarsku nie verniet nie,” soebat sy weer.
Maar haar gestribbel word al flouer. Uiteindelik volg
haar oë maar net hoe hy klim, al hoër, al soekend, maar dié keer nie na my
koelte of die vastigheid van ’n tak nie. Behendig kies hy die rypste peer, met die vorm van ’n hart en ’n glans van goud.
Sy staar, wagtend op die onheil. Hoekom die waarskuwing,
waarom die nee? Sy bestudeer sy gesig, die hoeke van sy mond, die blou
van sy oë. Maar hy glimlag dan! AI breër en breër. En met nuwe bewondering word
ek aanskou, word ek opnuut waardeer.
“’n Anderwêreldse ervaring”, sou hy dit later noem. Van kroon tot toon het ek gegloei.
Gloeilampe vir pere en feeliggies vir blare. En ’n bas met ’n warmte wat van diep binne af smeul.
Hap na hap, vrug na vrug, groei sy verwondering: “Ja, hóékom waarsku hy, wáárom sê hy nee?”
En soos ek gevrees het, kom hulle weer. Vol vreugde en
opwinding, nes elke vorige keer. Bly is sy om teen my bas te kan lê, in my
takke te kan wieg en uiteindelik in te sluimer. Maar slaap en rustig wees soek
hý nie. Boomklim self is nie meer ’n avontuur nie. Dit het ’n doel gekry.
Opnuut probeer sy keer. Sy vertel stories en deel ’n geheim of
twee. Alles om sy aandag weg te lei van die goudgeel ding wat so aanloklik daar
hang. Sy probeer hom herinner aan die
lekker van swaai en speel. Maar sy oë kyk anders. Die ander dag se ekstase was
te soet, maar ook te kortstondig.
Sy tweede ervaring was alles ’n bietjie
méér. ’n Vetter
peer en ’n groter
hap. ’n Gouer
glans en ’n warmer gloed. Intenser as laas, maar net so tydelik.
So kom hulle en gaan hulle. Nog ’n dag onder my takke, nog ’n dag in my
koelte. Nog ’n dag vir speel, ’n dag vol begeerte: haar begeerte na sáám
speel en sáám rus. Maar ook die ánder, rustelose begeerte in hóm.
Sy probeer ’n laaste maal en bied selfs aan om saam te
klim. Om saam in die hoogste mik te gaan sit. “Ons klim hom stadig uit, tot héél bo,” sê sy. Dit
gaan nie oor wen nie. “Ek wil saam met jou na die uitsig kyk, na jóú
uitsig kyk. Ek wil verstaan.”
Maar die nuuskierigheid in sy oë, die frons tussen die
wenkbroue en die onrus wat diep binne hom roer, laat haar besef: hy sál weer
klim, hy sál verder eet. Hy’t ’n honger in hom, ’n honger wat
knaag en smag na mý vrugte, en mý vrugte alleen.
Dié keer is hy haastig. Hy bestyg my onverskillig, bereik
gou die hoogste tak, soek gierig na die rypste peer. Hy gryp ongeduldig na die
vet vorm en vreet die ding met ’n paar gulsige happe op. Pitte, stronk en al.
En dan is hy weer aan my voete, staan en staar hy om te sien hoe ek nóú lyk.
Ek begin soos al die ander kere te gloei, al sterker en
sterker. Mooier as te vore, asemrowend.
My pere lyk weer soos warm kole, my blare flikker soos kersvlamme in die wind
en my bas het die gloed van ’n bosveldvuur.
Sy mond hang oop. Hy sukkel om te glo wat hy sien.
Ek brand.
En ek brand en ek brand, van bo tot onder. En ek sien hoe
die vlamme in sy blou oë weerkaats. Die nuuskierigheid, die onrus, al die vrae
is nou weg. En ek brand en ek brand, van my kroon tot onder by my wortels. En
soos ek vergaan, waarsku ek ’n laaste maal: “Alles verdof maar met die tyd. Uitbrand lýk net meer opwindend.”
No comments:
Post a Comment