http://miavdmerwe.tumblr.com/

Tumblr:miavdmerwe.tumblr.com... Portfolio:miavanderm.wix.com/miavandermerwe

Blog Archive

Thursday, 15 December 2011

Happie vir die hart


Oop swaai die oorlaaide yskas . Ek loer op die heel boonste rak, binne-in die volgestopte laai en in die sy van die kreunende deur. Na alles word gekyk en gekeur. Maar daar is niks.

My lyf kla en smeek.  Na iets soets. Of na iets souts. Ietsie warm, of dalk koud?

Aan gaan die ketel. Rooibos, Ceylon of Earl Grey? Maak dit saak? Ek drink dit tog net omdat tee gedrink móét word. Alleen, met twee lepels suiker en te veel melk.

Nou grom dit: my maag, my kop, my hele lyf. ’n Onbepaalde rusteloosheid. ’n Hongerte na iets afwesig in my koskas, afwesig in my kombuis en afwesig in die Pick ’n Pay ‘n klipgooi vêr.

Maar ek weet, dis oukei.

Jy kom binnekort kuier, met ’n pakkie van jou ma se tuisgebakte beskuit. Karringmelk, pampoensade en ’n knippie kaneel.

En dán drink ons tee omdat tee drink lekker is.


2 comments:

  1. Ek het in die afgelope 2 en 'n halwe jaar geen beskuit ge-eet nie. :/
    Ek wil nie noodwendig op al jou posts komentaar lewer nie, maar Blogspot het geen Like knoppie soos Wordpress nie.
    Nie te min is ek hier, ek het die groot kloof tussen Blogspot en Wordpress oor gesteek.
    Hallo.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo oomandre.Ek sien jy bly in Duitsland! Dankie vir die komentaar, ek waardeer dit baie.

      Delete