Oop swaai die oorlaaide yskas . Ek loer op die heel
boonste rak, binne-in die volgestopte laai en in die sy van die kreunende deur.
Na alles word gekyk en gekeur. Maar daar is niks.
My lyf kla en smeek.
Na iets soets. Of na iets souts. Ietsie warm, of dalk koud?
Aan gaan die ketel. Rooibos, Ceylon of Earl Grey? Maak
dit saak? Ek drink dit tog net omdat tee gedrink móét word. Alleen, met twee
lepels suiker en te veel melk.
Nou grom dit: my maag, my kop, my hele lyf. ’n Onbepaalde
rusteloosheid. ’n Hongerte
na iets afwesig in my koskas, afwesig in my kombuis en afwesig in die Pick ’n Pay
‘n klipgooi vêr.
Maar ek weet, dis oukei.
Jy kom binnekort kuier, met ’n pakkie van jou ma se tuisgebakte beskuit.
Karringmelk, pampoensade en ’n knippie
kaneel.
En dán drink ons tee omdat tee drink lekker is.