Daar's ’n kabaal in die
winkel.
Toegemaak en ligte af; klaar
geposeer vir die dag.
Dit gons van opwinding,
wemel van speelgoed, op elke rak en in die uitstalkas. Dis tyd om te verken,
daai popbene te strek en die plastiek lokke los te laat, wispelturig in die
dakwaaierwind.
Dis tyd vir klouter:
opgestopte bere, snoesig sag en stywe soldate, vuilgroen, al klimmend teen die
blokkasteel op. Dís die wye uitsig waarna meeste smag.
Kraal oë opsoek na
vervulling, na iets avontuurlik, op ’n rak duskant allerdaags.
Maar húllé dwaal nog, al in
die rondte, in die “snow globe” ten toon gestel in ’n eenkant kas. Al te fraai
van aansien, maar vasgekeer in die klein koepel van glas.
Hulle lýk tevrede, binne die
borrel blink gepoleer. En skynbaar gelukkig lewe hul voort, veilig afgesper
deur die kleurlose grens...
Dis oopmaaktyd en die ligte
brand; tyd vir 'n nuwe dag van speel-speel poses.
Deur gange en rakke trippel
kaal voetjies soekend. Taai vingers voel en vat aan ’n opgetofte pop. Motors
gerangskik in ’n plastiek stoet en albasters wat rol oor die ingeboude mat.
By die eenkantrak strek
hande uit na die bol, twee oë tuur deur die ronde glas. En met 'n heftige skud,
skommel die sneeu en dit sak.
Maar hulle dwaal nog, al in
die rondte. Onaangetas deur die grootheid buite, onbewus van die winkel se wyer
bestaan.
Dis mooi. Mooi ritme ",skommel die sneeu en dit sak." :)
ReplyDelete